Simondium is die Here s'n

Hoe weet ek Simondium Familiekerk is die Here s'n? Ek kyk na hoe Hy daarna omsien. Enige boer weet baie goed dat sy eiendom duur gekoop is - dat sy bates, gewasse en diere kosbaar is. Daarom versorg hy dit - hy koester dit. As die boer nie eienaarskap van dit neem nie, gaan dit agteruit en vergaan op die ou-end. Wanneer 'n plaas en boerdery floreer en groei is die bewys duidelik - die boer is nog steeds die eienaar van sy plaas.

Wat gebeur met ons gemeente? Ons groei (nie net in lidmaatgetalle nie) en ons floreer. Wat is die afleiding dan? Duidelik: dat ons nog steeds aan die Here behoort. Dit klink eenvoudig en amper nie nodig om te sê nie, maar tog moet ons dit hardop sê! Ons gemeente is die Here s'n.


As mens kyk na hoe die Here ons gemeente deur die lockdown gedra het, mense geroep het om hul harte en sakke oop te maak met ons Oktobermaand Dankoffer, hoe Hy ons in die voorbereiding tot ons Makitie (basaar) uit ons sokkies seën, staan mens verstom.


Hier lê soveel troos - ons is nie op ons eie nie. Ons is maar net die werkers in 'n groter organisasie. 'n Organisasie waardeur God sy wêreld liefhet en versorg. 'n Organisasie waar die Baas ook die Eienaar is en Sy organisasie versorg, onderhou en telkens uitdaag. 'n Organisasie wat kerk is, en nie net hulself kerk noem nie. Simondium Familiekerk - die Here s'n!

0218741338

©2020 deur DJ Muller (0796481114 / djennadia@gmail.com)